Vanderkloof is ‘n versteekte skat, ‘n goed bewaarde geheim op die grens tussen die Karoo en die Vrystaat. Dis ‘n pragtige klein oase langs die dam, met net genoeg winkeltjies om almal gelukkig te hou. Daar is geen nywerhede en geen deurverkeer nie – die enigste pad in is ook die enigste pad uit. Die perfekte halfwegstop tussen die Kaap en Gauteng, met minder as 5% van die N1 se verkeer, en ‘n pragtige landskap weerskante van die heel goeie pad. (Ry vanaf Beaufort-Wes deur Victoria-Wes, Britstown, De Aar en Philipstown, of vanaf Bloemfontein verby Petrusburg, Koffiefontein en Luckhoff.)
By Pride Rock is ons gul ontvang deur Rika, Erny, Landie en Rosemarie. Laasgenoemde twee se dogtertjies en Helena het eensklaps maatjies geword en ure lank baljaar. Ons het vir twee dae lekker voor die kaggelvuur gekuier, rooiwyn gedrink, heerlik geëet, gelag en gesels, en wanneer ons alleen wou wees, het hul ons ons privaatheid gegun. Ons beveel Pride Rock by almal aan.
Donderdagoggend het ons goed uitgerus en met verfrisde gestelle in die bittere koue afskeid geneem en pad gevat na Bloemfontein. Ons het weer gestop vir brekfis in Koffiefontein (hierdie slag net een Irish elk, dankie), en so teen 3uur het ons die Rosestad binnegesuiker.Ons het gaan inboek in ‘n gerieflike gesinsuite by Lakewood Lodge, skuins oorkant die Loch Logan winkel- en restaurantkompleks. My girls was gans tevrede met hul lot. Die aand het ek, Oom Ollie, Oom PG en Pietman die eerste van ons drie shows in ‘n klein teater by die Laerskool Eunice gedoen. ‘n Groot sukses. Ons het my gals gaan oplaai en almal heerlik gaan eet in Butcher Brothers, met ons ou pelle Natie en Michelle Botes ook in die geselskap.
Die volgende oggend 11uur het ons weer ‘n show gehad, ook baie lekker. Lanelle het Helena fliek toe gevat (Ice Age 3). Agterna het ons almal middagete gaan eet in die Mexican in 2de Laan. Lanelle en Oom Ollie het gesmul aan hul Steak Tartare. Later die middag is ek en my meisies oor na die patologie-praktyk waar ons ou vriendin Vicky Kleinhans werksaam is. Vicky het gereël dat ek vir toetse kan kom – ek het nie minder nie as vyf festering bosluisbyte saamgebring uit die Bosveld. Vroeer die week het ek al die simptome van bosluiskoors getoon: klierpyne, lyfseer, hoofpyn, en so aan. Al die toetse was egter negatief, so ek was voorlopig skoon. Ek dink daai bosluis het na die tweede sluk Jagermeister sy mojo verloor. Die aand het ons in die ysige koue lekker steaks gebraai by Vicky en Christo, en al ons sorge was daarmee heen.
Die volgende middag se show was ewe lekker. Ek en Pietman was agterna mortified om te sien hoe die WP die game op Loftus weggooi. Ons het ons woede gaan besweer by Seven on Kellner, saam met Natie en Michelle, en my meisies, natuurlik. Later het Oom Ollie-hulle ook by ons aangesluit. ‘n Heerlike aand, en ‘n gepaste einde aan ‘n lekker fees. Ek, Lanelle, Pietman en Oom Ollie het finaal closure gaan kry in ons Noltes se hotelsuite, met die laaste inhoud van Olla se sakfles. Bou jy nou ‘n boereorkes.
Sondagoggend het ons die bakkie gelaai en begin aanstoot in die rigting van die Kaap. Ons kon teen hierdie tyd nie meer wag om Robert te sien nie.
Ons moes teen wil en dank maar op die N1 bly. Ons het afgesien van ons aanvanklike plan om dit rustig te vat en oor te slaap in Hanover, en deurgedruk tot in Prins Albert. Daar het ons oornag in die baie lekker Laslap selfsorghuis (gaan Google en bly gerus oor, dis gerieflik en skoon en stil, jy sal amper uitpaas van al die vars lug, en jy kan braai in die kombuis). Ons het gaan lamskerrie eet in die vriendelike Swartberg Hotel, ook die lekkerste patat-en-peer sop geniet, en diep-diep gaan slaap.
Die volgende oggend het ons gesukkel om weg te kom. Daar’s iets magneties aan hierdie plek, en ons hou aan terugkeer…
Na nog sowat drie ure op die pad is ons deur die beeldskone Boland tot by ons basis in Somerset-Wes. Ons was heel verbaas oor hoe warm dit was (vergeleke met die bibber-Vrystaat) en het die sonskyn ingedrink. Ons het ons reis-skatte uitgepak en behaaglik opgekrul met ‘n paar DVD’s, en uitgesien na ons hereniging met Robert die volgende dag.
Die volgende middag na skool is die blye weersiens gevier met sushi en oesters. Ons het drukkies en stories uitgeruil en gelag en gekuier, soos net ons kan. Ons het vir hom ‘n cool swart Zimbabwe T-shirt gegee, en ek en hy het elkeen ons nuwe buddy-tokens om ons nekke gehang: ‘n luiperdnael aan ‘n leerstring. Mens moet hulle nie groot wens nie, maar wragtig, ek kan nie wag dat hy saam met ons kan pad vat nie. Hy kry juis einde Desember sy leerlinglisensie…
Baie dankie aan almal wat betrokke was by die sukses en voorspoed en goeie tye op hierdie afgelope been van ons Eindelose Reis. Ons wens julle net die beste toe en hoop om die vriendskapsvure vir altyd te laat brand. Ons kom weer!
Soos daai dronk oom vir Gerald gesê het: “Hy’s ‘n lekker game as jy hom ken, hoor.”











































































