Vic Falls & Bulawayo

blogpic11blogpic10blogpic9blogpic7blogpic6blogpic5blogpic4blogpic3blogpic2blogic1Sonder te veel hassles is ons deur die grenspos by Kazungula. Met ‘n asemrowende mooi namiddag-pad is ons Zimbabwe binne. Die ryk kleure van die landskap en die beeldskone bome het ons na ons bestemming begelei. Ons het die skoonheid getoast met rooiwyn en die beleë klanke van die Silver Creek Mountain Band oor die Landy se speakers.

Ek was half verbaas om ‘n funksionele dorp by die watervalle aan te tref. My gewaande idee was dat ons deur ‘n verlate ou oord-hotel met ‘n geroeste hek en ‘n gerookte wag begroet sou word, en dat ons dan maar daar iewers vanaf ‘n paar verwaarloosde uitkykpunte onsself sou moes vergewis van die glorie wat eens was. Hoe verkeerd was ek nie.

Ons het ingeboek by die weelderige The Kingdom hotel, ‘n spoggerige kamer betrek, aandete in luuksieuse omstandighede geniet en rustig gaan slaap onder die gedruis van die nabygeleë watervalle.

Die volgende oggend het ons die Victoria Falls gaan besoek. Dit was ‘n pragtige, sonnige dag. By die Valle moes ons eers reenjasse huur vir die sproei wat ons op ons uitkykroete sou teekom. Dit was ‘n fabelagtige gesig wat ons ingewag het. Die Zambesi was vol in die vloed en Vic Falls het ons ‘n skouspel par excellence gebied. Die gedreun en die sproei was ‘n belewenis soos min. Selfs my hinderlike hoogtevrees het by tye gewyk voor die grootsheid wat reg voor en (ver, baie ver) onder ons op display was. Spectacular. Na afloop van die staptog deur die uitkykroete, het ons by die Zambesibrug gaan staan en kyk hoe bungi-jump ‘n paar malles onderdeur die permanente reenboog wat deur die sproei veroorsaak word.  

Ons het Zambesi-bier gaan drink by ‘n plaaslike watergaatjie en ‘n paar aandenkings aangeskaf, onder andere ‘n stel Zim-geldnote – dit begin by Z$ 100 Trillion, daarna af deur ‘n paar biljoen-denominasies, dan deur die miljoene, en so aan. Alles vir vyftig Pula. Nogal tragies, terwyl kleutertjies munte (‘any coins, pliez boss’) by ons bedel.

Ons is vort op die A8 in die rigting van Hwange. Voor Hwange sou ons weswaarts afdraai deur die Nasionale Park tot by die Pandamatenga grenspos, maar omdat ons bitter min lus was vir daai pothole-pad tot in Nata, het ons besluit om deur te ry tot in Bulawayo, vanwaar ons dan weswaarts sou swenk op die A7, tot by die Plumtree grenspos.

Op pad het ons gestop buite die dorpie Gwayi en een van hul gesogte kleipotte by ‘n vriendelike handelaar langs die pad gekoop. Dit was opvallend hoe vriendelik die mense oor die algemeen was, nes in Botswana. ‘n Ent verder het ons egter ‘n effe onthutsende ervaring beleef.

Ons word tot stilstand gebring by ‘n padblokkade. ‘n Zim polisieman gaan ons papiere en die voertuig na. Alles blyk in orde te wees, maar hy wil ons beboet omdat die Landy kwansuis nie oor ‘reflectors’ beskik nie. Gerald strip sy moer en ‘n woordewisseling volg. Op ‘n stadium dreig dinge om hand-uit te ruk, veral toe Gerald die geregsdienaar so liggies met die kar se manual gooi. ‘This car is one year old! The Queen of England drives a car like this! You want to tell me the Queen has no reflectors? Read the manual! Can you read?’

O, jirre, dag ek. The Queen of England – in Mugabe se Zim, in ‘n roadblock. Die poeliesman is glad nie ingenome nie. Ek dag, hier word Gerald nou gearresteer, sy kar geskut, en ek en my meisiekinders sit gestrand tussen ‘n trop plaasbesetters. Na ‘n mini-ewigheid en ‘n paar gewigtige woorde besef die cop dat daar vandag geen omkoopgeld in sy sak gaan beland nie, en dat die Mlungu met die Botswana-nommerplate sekerlik nie so hardegat sou wees as hy nie regtig, regtig well connected is nie. En daar gaat ons weer. Phew. By die volgende paar blokkades het Gerald dit darem kalmer gevat en die manne het ons heel gemoedelik deurgewaai.

Ons bereik Bulawayo teen laatmiddag en die vervalle eertydse glorie is oral aanwesig. Gerald vertel hoe ‘n lekker stad dit altyd was om in te kom jol. Oral staan lee vulstasies. Inderdaad, ons diesel is laag, en by geeneen van die pompstasies wat wel nog sake doen, is daar diesel beskikbaar nie. Dankie, Bob. Ons het geen keuse as om maar deur te druk nie, deur ‘n skouspelagtige sononder, met die Matopo’s in die ooste.

Dit was al donker toe ons Plumtree bereik. Daar loop ons ons vas in ‘n eindelose tou Zim-burgers wat Botswana wil binnegaan. Ons moes maar agter inval. Net een geduldige ou tante was agter die toonbank aan diens. ‘n Paar uur toustaan was ons voorland. Die ononderdrukbare Gerald het egter ‘n woordjie of twee gaan laat val (sy sakeonderneming dra skynbaar ruimhartig by tot die skool waar die tante se kinders klasdraf) en woeps! – daar gaat ons weer. Afrika. Uiteindelik het ons weer die plaas by Tshesebe bereik – moeg, but highly satisfied. ‘n Fantastiese avontuur!

Oneindig baie dankie aan Gerald en Heleen, vir die milde gawes en die gasvryheid; aan Alan en Ankia, en sommer al die lekker nuwe pelle wat ons in Botswana gemaak het – Jacques ‘Jakie’ Myburgh, Colin en Joan, Johnny en Betsie, Robert en Ilse, en al die ander, vir ‘n onvergeetlike tyd vir my en my girls.

Soos die gesegde lui, “Daar kom ons toe nou soooo aan!” He he. Ons kom weer.

Advertisement

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s